Netbal is een van die sportsoorte waarop Larries besonder trots is. Dis 'n sportsoort wat vol tradisie is en waar ons massa deelname aanmoedig.
Gedurende die netbalseisoen wemel ons bane van ongeveer 250 dogters wat daagliks hulle tekkies glad oefen en hulle harte uitspeel. Larries se netbal is landwyd bekend.
Die hart van Larries se netbal is definitief ons afrigters. Ons afrigters gee jaarliks baie ure van hulle tyd en passie om ons dogters die beste moontlike spelers te kan maak wat hulle kan wees.
Ons het 4 skeidsregters met Nasionale graderings, 7 met Provinsiale graderings en is besonder trots op Juffrou Karen van Rensburg wat lid is van die Nasionale Uitvoerende Komitee. Ons het ook jaarliks verskeie Provinsiale spelers en afrigters wat betrokke is op Provinsiale vlak.
Die Wildeklawer toernooi is een van die grootste toernooie in die land waarvan die tops skole van regoor die land uitgenooi word. Larries is gelukkig genoeg om die enigste Noordwes laerskool te wees om aan hierdie uitsoektoernooi deel te neem. Ons presteer ook jaarliks op Super 12 en is die huidige onder 13 en Super 12 Kampioene. Ons eerste span het ook verlede jaar 'n brons medalje op die Nasionale Kampioenskappe gewen, waarop ons besonder trots is.
Onder 13 is ongetwyfeld die hoogtepunt van enige Larrie dogter se netbal loopbaan. Die rede hiervoor is dat hulle verskeie toere onderneem. Hulle toer onder andere na die top netbal toernooi in George, neem deel aan die Wildeklawer toernooi in Kimberley en verken ons die land wyd en suid afhangende van waar die SA Kampioenskappe aangebied word. Ons het onder andere getoer na Hoërskool De Kuilen in die Wes Kaap, ons was in Bloemfontein en ook natuurlik by EG Jansen Hoërskool in Boksburg.
Een van die vennootskappe waaraan Larries groot waarde heg is ons vennootskap met die oud Protea afrigter Elize Kotze wat natuurlik Raloka bedryf. Ons het 'n baie mooi verhouding met haar en al ons spanne neem ook jaarliks kampe na Raloka waar Elize ons fynere kunsies van die sport leer.
Ons groot trots is natuurlik Renske Stolz, Proteaspeler wat se wortels hier by Larries lê, daarom het ons ons bane na haar vernoem. 'n Superspeler wat haar eerste tekkies hier by Larries glad gespeel het.
Netbal is voorwaar die lekkerste ding om te doen met jou tekkies aan!